Hoe Om Jou Ware Doel en roeping In Die Lewe Te Vind

Deel 1
Die Geheim Van Jou Drievoudige Doel

| TuisbladDeel 2 | Deel 3 | Na Onder |

Elmer Gobler
Hi, ek is Elmer Grobler. Ek het 'n belangrike boodskap wat ek met jou wil deel. Dit is my oortuiging dat hierdie die belangrikste boodskap is wat jy ooit sal hoor en dat dit die koers van jou hele lewe kan verander. Volg my asseblief deur die volgende drie bladsye.
Beskryf die illustrasie hiernaas een of meer aspekte van jou lewe? Dan is hierdie boodskap vir jou!
Ek noem hierdie illustrasie 'die bom', want as jy versuim om een of meer van hierdie simptome te behandel, sal dit vroeër of later lei tot 'n emosionele of geestelike ontploffing in jou lewe. Lees asseblief verder.


Verlang jy na vastigheid?
Is jy ontevrede met jou lewe?
Soek jy na meer lewensvreugde?
Worstel jy  met ‘n  swak  selfbeeld?
Smag  jy na innerlike  rus en  vrede?
Is jy ongelukkig in jou werk of beroep?
Worstel  jy met  een krisis na  die ander?
Is daar ‘n stuk onvervuldheid in jou lewe?
Worstel jy met ‘n  gevoel  van verwerping?
Is jy kwaad vir iemand, jou pa, ma, of God?
Worstel jy met negatiewe omstandighede?
Worstel jy met onsekerhede in jou lewe?
Worstel jy met ‘n ongelukkige huwelik?
Worstel jy met  negatiewe gedagtes?
Worstel jy met een of ander vrees?
Worstel  jy  met  neerslagtigheid?
Worstel jy dalk met depressie?
Worstel jy met ‘n verslawing?
Wat  is  jou  worsteling?
Mnr Doelloos

God het ‘n dinamiese doel en plan vir jou lewe!

God het 'n groot en heerlike doel en plan vir elke mens, en ook vir jou lewe! Dis hoekom Hy jou gemaak het! God het jou gemaak met 'n baie spesifieke doel en plan in gedagte, en Hy het 'n begeerte in elke mens se innerlike wese ingeplant om jou doel in die lewe te vind.

Dit is die rede waarom elke mens op aarde wanneer ons groot word, soek na ons doel in die lewe. Ons is so gemaak! Die dag toe jy skool of universiteit verlaat het, moes jy een van die belangrikste besluite in die lewe neem, naamlik, wat gaan ek met my lewe doen?!

Onseker Doel
Daar is ‘n algemene misverstand by meeste mense dat die belangrikste ding in die lewe is om ‘‘n lewe te maak’. Met ander woorde, ek moet ‘n werk of beroep hê waardeur ek ‘n inkomste kan verdien sodat ek gerieflik kan lewe en vir my vrou en kinders kan sorg. Ons dink dat wanneer ons hierdie doelwit bereik het sal ons lewe vervuld wees. Verkeerd! Laat ek sommer reg aan die begin vir jou sê -- hierdie is ‘n wanvoorstelling en ‘n misleiding -- en as dit die beweegrede agter jou werk of beroep is, kan ek jou waarborg is jy op die pad na ‘n mislukte lewensdoel! Jesus het in Mat 6:25-33 gesê: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? ... Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. (ANV. Beklemtoning my eie.) Die wêreld neem nie hierdie woorde van die Here Jesus ernstig op nie - inteendeel, die wêreld se wysheid is: 'Beywer jou eers vir jou eie dinge, wil en regte, en die koninkryk van God sal vir jou bygevoeg word'.

Die waarheid is dat daar 'n leë en onvervulde leemte in elke mens se lewe bestaan, wat net deur God gevul kan word en sal voortduur totdat ons ons Goddelike doel vind!

Daar is ‘n stuk onvervuldheid en onvoltooidheid in elke mens se lewe -- maak nie saak hoe geleerd, bekwaam, voorspoedig of suksesvol jy is nie -- totdat jy God se volkome doel en plan vir jou lewe vind!

God het ons so gemaak, en tensy ons ernstig na ons Goddelike doel en roeping soek, sal ons lewens onvervuld en onvoltooid bly -- maak nie saak hoe geleerd, suksesvol of voorspoedig ons oënskynlik in die lewe mag wees nie!

Die Grootste Tragedie

Die grootste tragedie in die lewe is om jou lewensdoel te mis!

Hoe tragies is dit om menigte mense regoor alle terreine van die lewe - ryk en arm, jonk en oud - te sien op die ashoop van ‘n onvervulde lewensdoel. Mense gryp na elke strooihelm in hulle soeke na mening en vervulling. Sommige gee hulle oor aan musiek, plesier, sport, werk, geleerdheid, positiewe denke, sielkunde, die internet, geld of ‘n liefdesverhouding, vir vervulling; terwyl ander verder gaan en gryp na alkohol, dwelms, pornografie, seks en misdaad - net om uit te vind dat nie een van hierdie dinge ware en blywende vervulling kan bring nie!

Blywende lewensvervulling gaan altyd hand aan hand met Goddelike doel -- nie persoonlike drome nie!

Om ware vervulling in die lewe te vind moet jy God se doel en plan (of roeping) vir jou lewe vind! As jou persoonlike drome en jou Goddelike doel in konflik met mekaar is -- en van nature is dit! -- sal jy nooit jou lewensdoel verwesenlik nie! Jy sal 'n onvervulde mens sterf -- maak nie saak hoe geleerd, ryk of welvarend jy is nie! Buiten my persoonlike ervaring, kan ek vir jou baie ware verhale vertel waarvan ek gelees het, maar ook van mense met wie ek persoonlik te doen gehad het!

Meeste mense verwar roeping met beroep. Wat is die verskil? ‘n Beroep is die lewenstaak wat jy vir jouself gekies het na aanleiding van jou beoordeling van jou persoonlike talente, vermoëns en voorliefdes. ‘n Roeping is die lewenstaak wat God vir jou beplan het na aanleiding van die doel waarvoor Hy jou gemaak het, wil toerus, bekwaam en gebruik -- toe jy nog in die skoot van jou moeder was! Elke mens het ‘n Goddelike roeping -- nie net dominees, pastore, sendelinge en ‘n paar ander nie! Dit beteken egter nie dat as jy 'n passie vir 'n sekere werk het dat dit noodwendig God se roeping vir jou lewe is nie!

Die toets is -- weet jy verseker dat jy in die middelpunt van God se wil vir jou lewe is? As jy slegs in 'n beroep staan sal jou lewensfokus hier op die aarde en die tydelike dinge wees -- as jy in God se roeping vir jou lewe staan sal jou lewensfokus op die hemelse en ewige dinge wees, al doen jy 'n sekulêre werk.

Hoe weet jy wat God se wil, lewensdoel en roeping vir jou lewe is?

Hoe Weet Jy?
Wanneer ek van God se doel en roeping vir jou lewe praat, bedoel ek soos dit in die Bybel vir ons geopenbaar word. Jy sal agterkom dat ek ‘n hoë premie plaas op die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Moenie jou steur aan wat jy in die media lees, sien en hoor oor sommige wat die Bybel afgradeer na ‘n feilbare menslike boek nie. Ek kan die teenoorgestelde aan jou bewys, maar dit is ‘n onderwerp op sy eie. Glo my, jy kan die Bybel vertrou as die onfeilbare Woord van God! 

Om God se wil, doel en roeping vir jou persoonlike lewe te vind, moet jy in die eerste plek God se doel en plan met die skepping as geheel verstaan! Waarom het God die aarde en die mens geskep? Waarom het God jou geskep? Om hierdie vrae te beantwoord, moet jy die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel verstaan. In hierdie artikel het ek hierdie antwoorde in besonderhede bespreek. Jy kan dit lees by die skakel hiernaas. Ek wil egter vir jou God se skeppingsdoel en -plan hier kortliks opsom.
God se doel met die skepping en die Kerk is om 'n nageslag vir God en 'n bruid vir Sy Seun voort te bring uit elke nasie, volk, stam en taal; om met Hom oor die skepping te regeer in ewigheid. Hierdie doel en plan sal vervul word met die wederkoms van Jesus Christus en die bruilof van die Lam.

Die Evangelie van Jesus Christus -- Sy kruisdood en opstanding uit die dood -- is die middelpunt van die HELE geskiedenis van die wêreld en is die middelpunt van God se doel en plan met die wêreld. Paul Billheimer beskryf dit so pragtig: "The universe, including this planet, was created for one purpose: to provide a suitable habitation for the human race. The human race was created in the image and likeness of God for one purpose: to provide an eternal companion for the Son. After the fall and promise of redemption through the coming Messiah, the Messianic race was born and nurtured to bring in the Messiah. And the Messiah came for one intent and only one: to give birth to His Church, thus obtaining His Bride. The Church, then —  the called out body of redeemed mankind  —  turns out to be the central object, the goal, not only of mundane history but of all that God has been doing in all realms, from all eternity." *

Hierdie ewigheidsdoel en plan van God vir die wêreld waarvan die Kruis die middelpunt is, bereik sy hoogtepunt by die wederkoms van Jesus Christus.

*. Paul E Billheimer, Destined For The Throne by (© Christian Literature Crusade, Inc., 1975) p 21

Wanneer sal Jesus Christus weer kom en hierdie aardse bedeling verby wees?

Die Einde

Die profesieë van Jesus se wederkoms is besig om teen 'n geweldige tempo voor ons oë in vervulling te gaan en dit moet duidelik wees vir alle eindtyd-studerende Christene dat Jesus Christus se wederkoms vlak voor die deur is. Ons lewe ongetwyfeld in die laaste van die laaste dae en as jy nog hieroor wil debatteer of redeneer, sal ek jou aanraai om liewer te fokus op die doel van hierdie artikel, naamlik om jou lewensdoel te vind!

Dit is onmoontlik om ‘n doelgerigte en vervulde lewe op aarde te leef sonder ‘n fokus op Jesus se wederkoms. Die wederkoms van Jesus Christus is die klimaks, die hoogtepunt, en vervulling van elke mens se diepste behoefte en hoogste verwagting, strewe en doel –– maar ook die grootste mislukking, tragedie en ramp vir elke mens wat nie vir die ewigheid voorbereid is nie! Die wederkoms van Jesus Christus is die toegangspoort na die ewigheid -- vir sommige na 'n ewige verdoemenis, vir hulle wat gereed is na die ewige lewe!

Ek wil  jou uitdaag met die vraag, as jy weet dat God se skeppingsplan vir die wêreld in sy laaste pylvak is en Jesus Christus se wederkoms vlak voor die deur lê -- waarmee sal jy die res van jou lewe hier op aarde wil besig wees? Wat sal jou lewensdoelwit wees? Wat sal jou roeping wees? Hoe sal dit jou lewensprioriteite verander?

Wat is God se primêre doel en plan vir jou lewe?

Nou-ja, ek weet jy wil graag weet wat is God se doel en plan vir jou lewe ten opsigte van jou werk en beroep, jou huweliksmaat en huwelik, jou huis en huisgesin, jou finansies, jou krisisse, stryd en probleme, en al die keuses wat jy moet uitoefen ten opsigte van jou aardse lewe. Hierdie dinge is egter ingesluit, en sal in plek val wanneer jy God se primêre doel en plan vir jou lewe gevind het. 

Onthou jy die verse in Mat 6:25-33 wat ons hierbo aangehaal het? Jesus het gesê: “... beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (ANV) (Beklemtoning my eie.) Die Here verhoor nie gebede wat buite die raamwerk van Sy primêre doel en plan (of die wil van God) vir die mens se lewe val nie! 

Miskien wonder jy hoekom lyk dit dan of dit met sommige mense so goed gaan al leef hulle sonder ‘n ewigheidsfokus? Daar is veral twee antwoorde op hierdie vraag. Die eerste is vir ons opgeteken in Psalm 73. Ons lees in Ps 73:2,3 en 17: “Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien... totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.” (ANV) ‘n Ander belangrike antwoord is dat God die mens se hart beoordeel en hom oorgee aan sy eie redenasies en begeertes as hy nie met ‘n opregte hart na God se wil soek nie. Daar staan in Rom 1:22-24: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword ... Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee ... ” (Beklemtoning my eie.) Mag God verhoed dat dit enige iemand se lot is wat hierdie artikel lees!

Die wil van God is nie iets hoogs en vreemds, buite die bereik van menslike begrip nie! Die wil van God is niks anders nie as Sy geopenbaarde doel en plan vir elke mens en ook vir jou lewe! As dit dan so eenvoudig is, wat is God se primêre doel en plan vir jou lewe? 

Wanneer 'n mens die hele Bybel bestudeer en God se doel en plan met die skepping soos ons dit hierbo opgesom het verstaan, dan val die hele Bybelboodskap in plek en God se doel en plan vir die mens word kristalhelder. God het ‘n drievoudige primêre doel en plan vir elke mens op aarde en ook vir jou. Hierdie drievoudige doel en plan behels die volgende:

  • Om jou ‘n kind van God te maak. Om Sy skeppingsdoel in jou te vervul deur jou deel te maak van God se nageslag, familie, hemelse bevolking en Koninkryk.
  • Om jou te bekwaam vir die ewigheid. Om die beeld van God in jou te herstel wat deur die sondeval vertroebel is en jou voor te berei en te bekwaam vir jou hemelse burgerskap, taak en leierskap in Sy Koninkryk.
  • Om jou te gebruik hier op aarde. Om jou toe te rus en te bekragtig om God hier op aarde te verteenwoordig en Sy instrument te wees deur Sy skeppingsdoel te help uitvoer deur jou getuienis en medewerking van Sy plan en doel vir die wêreld, in afwagting op Jesus Christus se wederkoms.
Laat daar by jou geen twyfel wees nie –– tensy jy AL DRIE bogenoemde Goddelike doelwitte deelagtig word sal jy ‘n onvervulde en onvoltooide mens sterf, want God het jou so gemaak dat jy ware vervulling en voltooiïng slegs binne God se volledige doel en plan vir jou lewe sal vind!

Daar bly nou nog EEN vraag oor, naamlik, HOE kan jy bogenoemde drie Goddelike doelwitte vir jou lewe vind en leef? Ek behandel elkeen van hierdie doelwitte afsonderlik op die volgende bladsye. Volg asseblief die skakel hieronder na die volgende onderwerp.

Deel 2. Die Geheim Van Die Twee Lewensbronne

Deel hierdie boodskap met jou vriende op jou sosiale media hier

| TuisbladDeel 1 | Deel 2 | Deel 3 | Na Bo |

| Omtrent Ons | Kontak | Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2020 Scripture Educational Programs Alle regte voorbehou.