Hoe Om Jou Ware Doel en Roeping In Die Lewe Te Vind

Deel 2
Die Geheim van die Twee Lewensbronne

| Tuisblad | Deel1 | Deel 3 | Na Onder |

Gees, Siel, Liggaam

Dankie dat jy my na hierdie bladsy gevolg het. Jy het so pas die eerste stap geneem om die heel belangrikste saak in jou lewe uit te sorteer, naamlik jou ware doel! Sommige van die waarhede op hierdie bladsy mag vir jou bekend wees, terwyl sommige dalk vir jou nuut is. Dit is my gebed dat die Heilige Gees jou verstand sal verlig om die kosbare waarhede van Sy Woord te verstaan. Lees asseblief sorgvuldig deur die volgende artikel met 'n oop gemoed en ontvanklike hart.

Elmer Grobler

God het 'n groot en heerlike doel met jou lewe en Hy het 'n plan in plek om hierdie doel as lid van die Goddelike familie in JOU lewe te vervul! 

Ek weet, jy streef na ‘n doelgerigte lewe hier op aarde en jy sit met menslike behoeftes, uitdagings en stryd waarvoor jy antwoorde en oplossings soek. Ek wil egter herhaal wat ek in Deel 1 gesê het dat jou behoeftes in hierdie lewe ingesluit is, en die oplossings openbaar sal word wanneer jy God se primêre doel en plan vir jou lewe gevind het. ‘n Doelgerigte lewe hier op aarde sonder ‘n ewigheidsfokus is egter ‘n miete!

God se doel en plan vir jou lewe staan binne die verband van die ewigheid, al het dit betrekking op die hier-en-nou lewe. Soos ek reeds gesê het, hierdie lewe is deel van die ewigheid –– net ‘n oneindige onmeetbare klein fraksie daarvan! Die ewige lewe na die dood is ‘n werklikheid –– al voel dit dalk nie vir jou so nie! Die ewigheid is ‘n veel groter realiteit as hierdie lewe! Daar is egter ‘n groot kloof wat die ewigheid van hierdie lewe skei –– dit word genoem die DOOD –– en daar is slegs EEN brug oor hierdie kloof! Dit is die geheim van die tweede lewensbron.

Ons het Deel 1 afgesluit deur te sê dat God ‘n drievoudige primêre doel en plan vir elke mens op aarde, en ook vir jou het. Hierdie drievoudige doel en plan behels die volgende:

  • Om jou ‘n kind van God te maak. Om Sy skeppingsdoel in jou te vervul deur jou deel te maak van God se nageslag, familie, hemelse bevolking en Koninkryk.
  • Om jou te bekwaam vir die ewigheid. Om die beeld van God in jou te herstel wat deur die sondeval vertroebel is, en jou voor te berei en te bekwaam vir jou hemelse burgerskap, taak en leierskap in Sy Koninkryk.
  • Om jou te gebruik hier op aarde. Om jou toe te rus en te bekragtig om God hier op aarde te verteenwoordig en Sy instrument te wees deur Sy skeppingsdoel te help uitvoer deur jou getuienis en medewerking van Sy plan en doel vir die wêreld, in afwagting op Jesus Christus se wederkoms.

Ons gaan nou elkeen van hierdie drie Goddelike doelwitte afsonderlik behandel.

Doelwit 1. Om jou ‘n kind van God te maak.

God se eerste doelwit met jou lewe is om Sy skeppingsdoel in jou te vervul deur jou deel te maak van God se nageslag, familie, hemelse bevolking en Koninkryk –– en hierdie doelwit word slegs op EEN manier bereik, naamlik wedergeboorte. God se plan vir elke mens op aarde begin by wedergeboorte. Jesus het in Joh 3:3 vir Nikodemus gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Die enigste brug oor die kloof van die dood is bonatuurlike, geestelike en ewige lewe en jy kry dit slegs met wedergeboorte! Jy mors jou tyd om kerk toe te gaan en godsdienstig te probeer wees as jy nie met jou hele hart soek na wedergeboorte en geestelike lewe nie! Hou op kerk-kerk en godsdiens-godsdiens speel! Dit maak jou net mislik en bederf jou pret. As daar by jou ‘n begeerte is om meer te weet oor wedergeboorte, lees dan verder.

Wat is wedergeboorte? Wedergeboorte is die geboorte van geestelike lewe in ‘n mens. Daar bestaan twee tipes van lewe of lewensbronne –- fisiese, materiële of natuurlike lewe, en geestelike lewe. Fisiese of natuurlike lewe is sintuiglik waarneembaar, tydelik en verganklik –– geestelike lewe is slegs geestelik waarneembaar, ewig en onverganklik. Fisiese lewe is gesetel in die liggaam, geestelike lewe is gesetel in die mens se gees. Om hierdie rede kan die wetenskap nie geestelike lewe navors en bewys nie, behalwe op grond van die getuienis van hulle wat dit beleef. Geestelike lewe kan nie met fisiese instrumente of metodes gemeet of opgespoor word nie. Geestelike lewe is nie onderworpe aan natuurwette nie. Fisiese lewe is natuurlike lewe –– geestelike lewe is bonatuurlike lewe.  

Adam en Eva het oorspronklik beide fisiese sowel as geestelike lewe gehad. Toe God vir Adam en Eva geskep het, het Hy hulle as drie-enige wesens geskep – gees, siel en liggaam –– na Sy eie beeld. Jy weet dat God drie-enig is, maar het jy al ooit gehoor dat die mens ook drie-enig geskep is –– na die beeld van God?

God bestaan uit Gees, Siel en Liggaam. Die Siel van God is gesetel in God die Vader –– dit is die karakter en persoonlikheid van God –– dit is wie en wat Hy is. God die Seun, Jesus Christus is God geopenbaar in ’n menslike liggaam; en die Heilige Gees is God geopenbaar in die gees. Dit is dus geen verrassing nie dat die mens, wat na die beeld van God geskep is, ook bestaan uit gees, siel en liggaam! 

Siel, gees en liggaam

Die siel van die mens is sy karakter en persoonlikheid, en bestaan uit sy WIL, INTELLEK, en EMOSIE –– dit is wie en wat jy is. Die mens se liggaam word verteenwoordig deur sy SINTUIE. Deur jou sintuie kommunikeer jou sielsdimensie met die materiële of fisiese wêreld. Jou liggaam is dus die skakel tussen jou siel en die materiële wêreld. 

Die mens is egter ook geskep met ‘n gees. ‘n Mens kan slegs deur sy gees met God en die geesteswêreld kommunkeer, want die Bybel leer vir ons dat God is Gees en moet in gees en waarheid aanbid word. (Joh 4:23,24.) Die menslike gees moet egter nie verwar word met die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees is die Gees van God –– die menslike gees is geheel en al onafhanklik van die Heilige Gees. 

(Let asseblief daarop dat die illustrasies in hierdie artikel nie 'n fisiese weergawe is van hoe die brein funksioneer nie. Dit is slegs denkbeeldige illustrasies om die funksies waarvan ons praat te onderskei.)

Wil, Intellek en Emosie

Wat egter baie belangrik is om te verstaan is dat elke mens gebore word met ‘n dormante, of dooie gees. Onsterflikheid is gesetel in die gees. Toe Adam en Eva in sonde geval het, het die Gees van God hulle verlaat, hulle gees het dormant geword en hulle geestelike lewe het gesterf. Ons lees in Genesis dat Adam en Eva, soos God, geskep is om ewig te lewe, maar dat hulle ná die sondeval sterflik geword het.

God het engele laat wag hou by die ingang van die Paradys sodat die mens nie miskien van die “boom van die lewe” sou eet en ewig lewe nie. (Gen 3:22-24.) Die mense van Adam se geslag het nog baie oud geword, maar ons lees in Gen 6:3: “Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.” Omdat alle mense van Adam en Eva afstam het ons almal Adam en Eva se gevalle natuur en dormante of dooie gees oorgeêrf.

Laat ons nou terugkeer na die begrip van wedergeboorte. Soos ons reeds verduidelik het, word elke mens van nature geestelik dood gebore, en daarom moet ons geestelik of weer gebore word. Soos ons aanvanklik gesê het, is wedergeboorte die geboorte van geestelike lewe in ‘n mens. Met wedergeboorte word ons gees lewend gemaak. Met wedergeboorte ontvang ons geestelike, en daarom ewige lewe. Geestelike en ewige lewe kan slegs deur die gees van die mens ontvang en gehuisves word. Wedergeboorte is uitsluitlik die werk van God die Heilige Gees. Geen mens kan geestelike lewe verwek nie. 

Dooie gees

Wanneer ‘n mens weergebore word, kom maak die Heilige Gees woning binne in die gees van die mens en word die mens ‘n deelgenoot van die natuur van God. (2 Pet 1:4.) Wedergeboorte is die eerste en fundamentele stap van God se geestelike herstelprogram om die gevolg van die sondeval in die mens te herstel, deur ons gees weer lewend te maak.

Hoe weet ‘n mens of jy geestelik- of weer gebore is of nie? Die feit dat jy bely dat jy ‘n Christen, gedoop en lidmaat van ‘n kerk is, Jesus jou Saligmaker is, of dat jy ‘jou hart vir Jesus gegee het’, of dat jy die sondaardsgebed gebid het, is op sig self geen waarborg dat jy weergebore is nie. Daar is menigtes wat dit bely sonder om weergebore te wees. Jy moet ‘n getuienis van wedergeboorte hê! Met ander woorde jy moet weet dat dit met jou gebeur het en jy moet kan vertel hoe of waar en wanneer dit gebeur het. Net soos ‘n mens weet dat jy fisies gebore is en kan vertel hoe, waar en wanneer dit gebeur het (al kan jy nie die presiese datum en detail onthou nie), so weet ‘n mens dat jy geestelik- of weergebore is! Hier volg ses riglyne waaraan jy jouself kan toets. As jy “ja” kan antwoord op al die onderstaande vrae, kan jy weet dat jy weergebore is:

Wedergeboorte
Ses onmiskenbare kenmerke van wedergeboorte
  • Het jy geestelike lewe? Haal jy geestelik asem? Klop jou geestelike hart? Is jy lewendig vir geestelike dinge –– die Bybel en dinge van die Bybel –– of skakel jy af in geestelike gesprekke? Net soos ‘n mens weet dat jy fisies lewendig is, net so weet ‘n mens dat jy geestelik lewendig is. Let wel, hierdie is iets anders as om godsdienstig te wees. Dit is ook nie teologie nie. Godsdiens, teologie en geestelike lewe is drie verskillende dinge. Teologie is kennis en godsdiens is kultuur –– geestelike lewe is LEWE! Ek vra nie of jy deel is van die Afrikaner se godsdienskultuur en of jy Bybelkennis het nie –– ek vra of jy geestelik lewe?
  • Het jy ‘n lewende liefdesverhouding met God in Jesus Christus? Is jy lief vir die Here Jesus? Geniet jy gemeenskap met die Here in gebed? Iemand wat fisies lewe het gespreksgemeenskap met sy of haar ouers, familie en vriende. Vorm gebed ‘n wesenlike deel van jou daaglikse program? Geniet jy geestelike gemeenskap en geestelike gesprekke met ander weergebore kinders van die Here? Geniet jy, en sien jy uit na kerk-, huisgroep- en biduurbyeenkomste?
  • Neem jy daagliks geestelike voedsel in? Het jy ‘n honger en dors na geestelike voedsel? Iemand wat fisies lewe eet en drink fisiese voedsel en drank. Geen mens gaan onder normale omstandighede vir meer as ‘n dag sonder kos of water nie. Net so eet en drink iemand wat geestelik lewe daagliks geestelike voedsel en drank. Die Bybel is ons primêre bron van geestelike voedsel. Iemand wat geestelik lewe smag na die Woord van God en kan nie ‘n dag sonder die Woord laat verbygaan nie. Die Bybel is in geestelike taal geskryf en kan slegs verstaan word deur iemand wat geestelik lewe. Die Bybel is ‘n ‘oop’ en lewende boek vir iemand wat geestelik lewe –– die Bybel is egter ‘n ‘toe’ en dooie boek vir iemand wat geestelik dood is.

    Waarna hunker jy? Waarmee voed jy jou siel? Wat neem jy in? Waaroor dink jy die meeste? Lees jy geestelike boeke en tydskrifte, luister jy na Christelike radiostasies en kyk jy na Christelike videos en TV-programme? Of verlustig jy jouself hoofsaaklik in wêreldse bronne en media? Jou antwoord hierop sal ’n goeie aanduiding wees of jy waarlik weer gebore is of nie.
  • Groei jy geestelik? Iemand wat fisies leef, groei liggaamlik, emosioneel en intellektueel, tensy daar ‘n genetiese afwyking of ‘n sielkundige- of gesondheidsprobleem is. Net so is iemand wat nie geestelik groei nie, moontlik geestelik gestremd gebore, of het ‘n geestelike afwyking of –gesondheidsprobleem onderlede. Miskien weet jy dat jy êrens in die verlede weer gebore is, maar jou geestelike liggie het doodgegaan. Gelukkig kan dit, anders as met fisiese lewe, maklik herleef word.
  • Pla dit jou gewete as jy sonde doen – in so ‘n mate dat jy onmoontlik so kan voortleef sonder om jou saak met God reg te maak? Iemand wat in ‘n gesonde menslike verhouding staan met jou ouers, man, vrou, kinders of familie, sal onmiddellik die verhouding wil regstel as die verhouding deur jou toedoen vertroebel is. Of is jy heel tevrede om in ‘n gebroke verhouding met God (en jou medemens) te leef?
  • Het jy ‘n passie vir mense wat geestelik dood is? Het jy ‘n passie om die Evangelie te deel en geestelike lewe in andere te verwek. Indien nie, is dit ‘n teken dat jy waarskynlik self nie oor geestelike lewe beskik nie, en self geestelik dood is. 

Is jy weergebore? Is jy absoluut seker dat jy weergebore is? Liewe vriend, hierdie saak is SOOO belangrik dat jy nie kan bekostig om daaroor te twyfel nie! Sonder geestelike lewe is jy verlore! Hierdie is ‘n ernstige saak –– dit is ‘n saak van lewe en dood! Ons lees in 1 Kor15:50:  “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.” Hierdie mag jou laaste geleentheid wees want ons lees ook in Heb 4:6,7: “Terwyl dit dan so is dat ... diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, ...: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.”

Die vraag is nou, hoe word ‘n mens weer gebore?

Op grond waarvan kan jy geestelik of weer gebore word?

Miskien het jy die Evangelie al baie gehoor en miskien is dit wat ek hieronder skryf vir jou ou nuus. Dit is egter belangrik om die prentjie van die Evangelie duidelik te sien en daarom gaan ek bekende waarhede weer kortliks opsom. 

Jy en elke ander mens, is onder die oordeel van God gebore en oppad na die ewige dood en hel, tensy jy weer gebore word! Die Bybel leer vir ons dat die mens in sonde ontvang en gebore word. Van nature is elke mens geneig tot die sonde en van nature sondig elke mens daagliks deur oortreding van die gebooie van God. Van die eerste 'tantrum' wat jy as baba 'gegooi' het toe jy honger of dors was, tot die verwerping van die Evangelieboodskap wat na jou toe gekom het deur jou ouers, die kerk, 'n familielid, vriend of iemand anders, is die mooiste en beste mens op aarde besmet met sonde, onder die oordeel van God, en het vergifnis en reiniging nodig.

Soos ons hierbo gesien het, het die mens sy geestelike dimensie verloor met die sondeval en elke mens word geestelik dood gebore, met 'n sondige natuur, en onder die oordeel van God. Op sterkte waarvan kan 'n mens dan nou weer gebore word? Dit is natuurlik die wonderverhaal van die Evangelie van Jesus Christus. 

Daar moes 'n bloedoffer gebring word - want God het bepaal dat op hemelse regsgronde (in terme van die wet van God) daar geen vergifnis van sonde sonder die vergieting van bloed sou wees nie. (Heb 9:22.) Met ander woorde, daar moes 'n plaasvervangende offer gebring word deur iemand wat sonder sonde is, en nie onderworpe is aan die verderflike saad van die Satan nie. Hierdie moes 'n volmaakte offer wees - en daar is slegs EEN Persoon wat aan hierdie vereiste voldoen - dit is God self

Die Messias - gekruisig
Die inhoud van die Evangelie in 'n neutedop is dat God die Seun, in die rypheid van die tyd, Sy liefde vir jou en my kom openbaar het deur van Sy hemelse troon af te klim en 'n mens te word, gebore uit 'n maagd deur die bonatuurlike bevrugting van die Heilige Gees, sodat Hy sy Goddelike geregtigheid en heiligheid kon bevredig deur die straf vir die sondeval en die sonde van die wêreld op Hom te neem en te sterf aan die Kruis van Golgota in jou en my plek, sodat jy en ek die ewige lewe, dit is die geestelike lewe verwek deur die Heilige Gees, met wedergeboorte kan ontvang.

Deur Sy plaasvervangende dood aan die Kruis van Golgota het Jesus Christus 'n volmaakte offer gebring en die volle prys betaal vir die sondeval, jou en my sonde, en die sonde van die hele wêreld. Daardeur het Hy God se regverdige eis dat sonde met die dood gestraf word bevredig, en deur Sy bloed wat gestort is het Hy aan God se wetlike eise voldoen -- om die mens met God te versoen en die mag van sonde en Satan verbreek.

Deur Sy opstanding uit die dood het Jesus Christus die mag van Satan verbreek wat mag oor die dood gehad het, en hom wettiglik gestroop van sy gesag en mag oor die menslike ras, terwyl Hy as oorwinnaar getriomfeer het oor sonde, Satan, die dood en hel! Terselfdertyd het Hy ook God se skeppingsdoel vir jou en my, en ons ewigheidsposisie as mede-erfgename van Christus kom herstel. Lees die onderstaande drie Skrifgedeeltes om net weer die Evangelie-prentjie goed in fokus te kry.

Joh 3:16,17: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word."

Fil 2:5-11: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: "Jesus Christus is Here!" tot eer van God die Vader." (NAV)

Op 5:9,10: "Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers."

Hieruit vloei daar veral twee groot gedagtes voort wat ek graag met jou wil deel. Die eerste is dat wanneer 'n mens die prentjie kry van God se plan om die sondeval te herstel, staan jy nie alleen verstom oor die geniale en briljante inhoud daarvan nie, maar jy staan verstom en verwonderd dat God jou en my so lief gehad het om tot so 'n drastiese stap oor te gaan om dit aan jou en my te bewys!

God het Sy liefde vir Sy skepsels op so 'n intense wyse openbaar dat hulle vrywilliglik sou kies om hulle rug op Satan en sy koninkryk van sonde te draai, en om hulle aan hulle Skepper oor te gee ter vervulling van Sy hemelse doel vir hulle lewens!

God bou Sy Koninkryk deur die vrywillige Wilsoorgawe van Sy skepsels deur so 'n intense demonstrasie van Goddelike liefde dat selfs die gehardste misdadiger sal kniel by die Kruis van Golgota wanneer hy dit sien en verstaan!

Wie kan so 'n liefde weerstaan? Watter persoon, wanneer hy of sy die volle prentjie van God se verlossingsplan sien en verstaan, is in staat om so 'n demonstrasie van liefde af te wys?
Hoe word ’n mens weer gebore?

Deur geloof! Deur geloof in die verlossingswerk van Jesus Christus aan die Kruis! God is die enigste persoon wat in staat is om die mens se gees lewend te maak, en geloof is die katalisator wat iets menslik ondenkbaar verander in geestelike werklikheid.

Geloof in Jesus Christus is die enigste metode wat God ingestel het waardeur die gevalle mens sy verlore Goddelike posisie kan herstel. Waarom geloof? In die eerste plek omdat ongeloof die moedersonde is. Adam en Eva het gesondig omdat hulle God nie geglo het nie, en die Satan se leuen geglo het. Maar tweedens sluit geloof alle menslike inspanning uit! Geloof sluit alle menslike prestasie en meriete uit. Geloof skeer alle mense onder dieselfde kam. 

Jy kan nie jou eie dooie gees lewend maak nie! Jy kan nie jouself red nie! Jy kan nie jou posisie as kind van God verdien deur enige prestasie van jou kant nie. Geen mate van goeie werke, liefdadigheid, mildadigheid, hulp aan die armes, of watter goeie daad jy ookal aan kan dink, kan ooit vir jou 'n persoonlike verhouding met God verdien nie! Daar is slegs EEN weg - en dit is deur geloof in Jesus Christus!

'n Laaste opmerking oor geloof. Daar is 'n verskil tussen passiewe geloof en aktiewe geloof. Passiewe geloof is 'n passiewe aanvaarding van 'n waarheid, terwyl aktiewe geloof 'n persoonlike toe-eiening van 'n waarheid vir jouself is deur 'n aktiewe stap van jou Wil. Aktiewe geloof fokus op die Persoon van Jesus Christus, Sy kruiswerk en opstanding - en wat Hy vir JOU persoonlik gedoen het.

Passiewe geloof sal nie jou gees lewend maak nie -- slegs aktiewe geloof sal.

'n Belangrike rede waarom daar miljoene mense in die wêreld is wat hulleself Christene noem, maar nie die volle vreugde, vrede en doel van 'n Christelike lewe ervaar nie, is omdat hulle slegs 'n passiewe geloof het. Passiewe geloof sal jou net mislik laat voel. Dit is soos om te glo jy's die erfgenaam van 'n Koninklike boedel, maar jy gaan voort om in armoede te leef omdat jy nie geregistreer het as 'n erfgenaam en jou erfporsie in besit geneem het nie.

Nog 'n belangrike rede waarom baie mense nie weergebore word wanneer hulle Jesus Christus aanneem as hulle Verlosser nie, is omdat dit vir hulle gaan oor wat God VIR hulle moet doen, terwyl dit vir Hom gaan oor wat Hy MET jou wil doen! Die eerste is 'n selfgerigte geloof - die tweede is 'n Godgerigte geloof.

So kan jy weer gebore word hierdie oomblik

Jy moet die volgende waarhede vir jou persoonlik toe-eien deur 'n opregte Godgerigte geloof, wat gekenmerk word deur 'n opregte berou oor jou verlore en sondige toestand:

  1. BEROUVOLLE BELYDENIS - dat jy 'n sondaar is, dat jy gesondig het, en dat jy oppad is na die ewige dood en dit verdien - 1 Joh 1:8,9: "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig."

  2. BEKERING - jy moet jou rug draai op jou sondige lewe en gevalle toestand, en gewillig wees om daarmee te breek - Han 3:19: "Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, ..."

  3. GELOOF - jy moet ten volle glo in die Here Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Here en Hom vertrou om jou te red van die straf, sowel as die mag van sonde. Jy moet 'n oorgawe van jou lewe aan Hom maak. Dit beteken dat jy Hom ten volle moet vertrou met jou lewe - Heb 11:6: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek."

As enige een van die bostaande drie elemente ontbreek, sal wedergeboorte nie plaasvind nie. Let wel, aldrie hierdie elemente is elemente van geloof. Die eerste twee is nie iets wat jy moet doen en die derde geloof nie! Die eerste twee bely slegs die posisie waaruit, en die rede waarom jy jou geloof in Jesus Christus plaas, naamlik dat jy 'n sondaar is en dat jy jouself nie kan red nie.

Neem nou ‘n stap van geloof

Dis eenvoudig! As jy die eenvoudige gebed hieronder bid in opregtheid en met erns, deur jou rug te draai op jou sondige lewe, sal jy weergebore word en die Heilige Gees sal in jou gees kom woning maak. 'n Ander manier om dit sê is, Jesus Christus sal in jou hart kom woon.

Jy kan ook in jou eie woorde bid, maar dit is belangrik dat jy reg sal bid en dat jy sal bedoel wat jy sê. Jesus het gesê: ".. Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie." Joh 6:37.(NAV)

Dierbare Here Jesus Christus, dankie dat U aan die Kruis van Golgota in my plek gesterwe het.

Ek buig in berouvolle verootmoediging by die Kruis van Golgota in hierdie oomblik. Ek bely dat ek 'n verlore sondaar is wat U redding, vergifnis en reiniging nodig het.

Vergewe asseblief my sonde en reinig my hart deur U kosbare bloed.

Kom woon in my hart deur U Heilige Gees en maak my U kind. Kom herstel U doel in my lewe.

Ek neem U hierdie oomblik aan as my persoonlike Verlosser en Here, ek gee my lewe aan U oor en onderwerp my aan U Woord en hemelse doel vir my lewe.

Ek neem U op U Woord deur geloof en ek dank U dat U my gebed geantwoord het!

Amen.
Het jy hierdie gebed gebid?

Nou moet jy op die Woord van God staan en in die beloftes van Sy Woord wandel. Moenie op gevoelens staatmaak en na bonatuurlike manifestasies of bewyse soek nie! Gaan net eenvoudig vorentoe in geloof! Geloof! Geloof! Geloof! Geloof in God en Sy Woord! As die duiwel vir jou vra, hoe weet jy dat jy weergebore is, antwoord hom met die Woord: “Daar staan in Joh 1:12: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; ...” en 1 Joh 5:10-13: “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. ... En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” Skryf hierdie tekste op ’n kaartjie en hou dit in jou sak. Memoriseer dit en kwoteer dit elke keer wanneer die duiwel twyfel in jou gemoed wil saai..

Jy het so pas die eerste en belangrikste stap geneem in die ontdekking en vervulling van jou Godgegewe doel! Maar onthou - hierdie is slegs die eerste stap - dit is slegs die begin. Jy het nou by die deur van God se Koninkryk ingegaan waarbinne Sy doel en plan vir jou lewe geopenbaar sal word. Nou is jy binne die Koninkryk van God en nie meer daar buite nie. Maar nou is jy op 'n ontdekkingsreis na jou doel binne die Koninkryk van God. Nou is jy weergebore, maar net soos daardie pasgebore baba in die kraamsaal, is jou geestelike lewensbewustheid nog beperk tot 'n behoefte aan geestelike moedersmelk.

Belangrike stappe vir geestelike groei

Daar is nou ‘n paar baie belangrike dinge nodig vir jou geestelike groei:

1. Jy moet elke dag jou Bybel lees en bid –– nie as ‘n wettiese gewoonte nie, maar omdat jy verlang om te hoor wat die Here vir jou wil sê en leer, en om Hom beter te leer ken. Die Bybel is die Woord van God en God praat met Sy kinders primêr deur Sy Woord. Deur gebed praat jy met God, en deur die Woord en gebed bou jy jou persoonlike verhouding met die Here.

2. Jy moet aktief inskakel en betrokke raak by 'n evangeliese kerk of gemeente van weergebore kinders van die Here waar jy suiwer lering kan ontvang, geestelik versorg word, en deel kan word van 'n geestelike familie wat net soos jy, op reis is binne God se doel en plan vir hulle lewens. Dis nie  genoeg om net kerk toe te gaan nie. Moenie jou gewete aan die slaap sus nie! Jy moet geestelike gemeenskap hê met ander weergebore kinders van die Here!

3. Getuig teenoor ander –– veral jou familie en vriende. Vertel vir iemand wat met jou gebeur het. Hierdie is ‘n baie belangrike beginsel vir geestelike groei. Ek noem dit die uitvloei-invloei beginsel. Baie kinders van die Here ontvang eers die getuienis van die Heilige Gees wanneer hulle teenoor ander begin getuig, Daar staan in Rom 10:9,10: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” In Luk 9:26 sê Jesus: “Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.” Hoe meer jy na buite getuig, hoe meer ontvang jy die getuienis van die Heilige Gees in jou hart.

4. As jy nog nie gedoop is nie, moet jy gedoop word as ‘n getuienis van jou wedergeboorte vir die gemeente. 

As jy die gebed hierbo gebid het, wil ons graag vir jou bid en van tyd tot tyd met jou kommunikeer. Vul asseblief die onderstaande vormpie in om jou naam op die Groei Gebedslys te plaas. Ons onderneem om jou persoonlike inligting streng vertroulik te hanteer. As jou naam op hierdie lys is, is jy ook welkom om met my te kommunikeer as jy geestelike hulp of leiding nodig het.

Deel hierdie boodskap met jou vriende op jou sosiale media hier

| Tuisblad | Deel 1 | Deel 3 | Na Bo |

Scripture Educational Ptrograms
Omtrent Ons | Kontak Ons | 
Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2020 Scripture Educational Programs Alle regte voorbehou.