Hoe Om Jou Ware Doel en Roeping In Die Lewe Te Vind

Deel 3
Die Geheim van ‘n Oorvloedige, Doelgerigte Lewe

| Tuisblad | Deel 1 | Deel 2 | Na Onder |

Elmer Grobler

Dankie dat jy my na hierdie bladsy gevolg het. Jy het so pas die volgende stap geneem om die heel belangrikste saak in jou lewe uit te sorteer, naamlik jou ware doel! Ek versoek dat jy nie haastig sal wees wanneer jy hierdie bladsy lees nie. Hierdie is vaste kos. Ons is nou verby die melkkos fase. Soms sal jy bietjie moet kou om dit te verteer, maar ek kan jou belowe daar is geen senings wat jy hoef uit te spoeg nie. Dit is my gebed dat die Heilige Gees aan jou die dieper waarhede van Sy Woord sal openbaar.

Elmer Grobler

God het 'n groot en heerlike doel met jou lewe en Hy het 'n plan in plek om hierdie doel as lid van die Goddelike familie in en deur JOU lewe te vervul! 

Ons het gesê dat God ‘n drieledige primêre doel en plan vir elke mens op aarde, en ook vir jou het. Hierdie drieledige doel en plan behels die onderstaande drie punte. In Deel 2 het ons Doelwit 1 bespreek. Nou kom ons by Doelwitte 2 en 3.

  • Om jou ‘n kind van God te maak. Om Sy skeppingsdoel in jou te vervul deur jou deel te maak van God se nageslag, familie, hemelse bevolking en Koninkryk.
  • Om jou te bekwaam vir die ewigheid. Om die beeld van God in jou te herstel wat deur die sondeval vertroebel is, en jou voor te berei en te bekwaam vir jou hemelse burgerskap, taak en leierskap in Sy Koninkryk.
  • Om jou te gebruik hier op aarde. Om jou toe te rus en te bekragtig om God hier op aarde te verteenwoordig en Sy instrument te wees deur Sy skeppingsdoel te help uitvoer deur jou getuienis en medewerking van Sy plan en doel vir die wêreld, in afwagting van Jesus Christus se wederkoms.
Doelwit 2.   Om jou te bekwaam vir die ewigheid.

God wil Sy beeld in jou herstel wat deur die sondeval vertroebel is, en jou voorberei en bekwaam vir jou hemelse burgerskap, taak en leierskap in Sy Koninkryk.

Baie ware weergebore kinders van die Here ondervind ook patrone van geestelike neerlaag, sielsontevredenheid, frustrasie, gebrek aan lewensvreugde, onvervuldheid, onsekerheid, ongelukkigheid, neerslagtigheid, depressie, minderwaarigheid of meerderwaardigheid, ‘n gevoel van verwerping, swak selfbeeld, allerlei bindinge en soortgelyke simptome. Waarom is dit so? Hierdie dinge is alles simptome van die sondeval en wanneer ons hiermee worstel wil die Here ons lei om te soek na ‘n oplossing wat ons slegs in Hom en Sy doel vir ons lewens sal vind. Ons het in Deel 1 gesê dat tensy jy AL DRIE bogenoemde Goddelike doelwitte deelagtig word sal jy ‘n onvervulde en onvoltooide mens sterf, want God het jou so gemaak dat jy ware vervulling en voltooiïng slegs binne God se volledige doel en plan vir jou lewe sal vind! 

Wil, Intellek en Emosie

Wedergeboorte is slegs die eerste en fundamentele stap van God se doel en plan vir jou lewe, maar dit stop nie daar nie! Met wedergeboorte kom maak die Heilige Gees woning in jou gees en maak Hy jou gees lewend met die doel om nou Sy werk in en deur jou lewe te volbring. Die taak van die Heilige Gees is nie met wedergeboorte voltooi nie –– dit is slegs die begin! Net soos ‘n baba nie fisies volwasse gebore word en dadelik sy lewensdoel verstaan nie, sal jy dit ook nie alles verstaan by wedergeboorte nie. 

Daar is natuurlik besliste voordele van kindwees. ‘n Kind ondervind spesiale liefde en versorging van sy ouers. ‘n Kind leef onbesorg en gelukkig in sy ouershuis, terwyl hy of sy hulself geniet met hulle eie speelgoed. So is dit ook op geestelike gebied. Dit is egter maklik om te glo dat kindskap nou die einde van God se doel en plan vir jou lewe is. Die gevaar is dat jy nooit tot geestelike volwassenheid kom nie omdat jy nie besef dat die Here ‘n groter doel en plan vir jou lewe het nie.

Soos ‘n baba groei tot volwassenheid en dan uit sy of haar ouerhuis gaan om ‘n onafhanklike doelgerigte lewe te begin, so is dit ook in die geestelike realm. Dit kan en behoort net baie vinniger te gebeur in die geestelike lewe.

Verstaan die grondliggende probleem

Die Bybel leer dat die mens na die beeld van God geskape is. In watter opsig het die beeld van God verlore gegaan met die sondeval? Wat is dit wat God in jou en my wil herstel wat deur die sondeval vertroebel is? Die antwoord is, ons karakters en persoonlikhede! Die Here wil ons karakters en persoonlikhede na die beeld van God herstel. Ons het in Deel 1 gesê dat hierdie ons sielsdimensie is en bestaan uit ons WIL, INTELLEK en EMOSIE.

Die Sondige Natuur

‘n Waarheid wat die mens se natuurlike verstand net nie wil aanvaar nie, is die feit dat elke sielkundige probleem onder die son se oorsprong lê by die sondeval! God het vir Adam en Eva volmaak geskape na die beeld van God. Elkeen van hierdie simptome wat ons hier bo genoem het, geestelike neerlaag, sielsontevredenheid, gebrek aan lewensvreugde, onvervuldheid, onsekerheid, ongelukkigheid, verwerping, depressie, bindinge, en voeg maar hier by elke ander moontlike menslike en sielkundige probleem en afwyking waaraan jy kan dink, het sy oorsprong by die sondeval!

Die gay-debat is ‘n goeie voorbeeld om hierdie punt te illustreer. Mense redeneer daaroor of gays so gebore word of so word as gevolg van hulle omstandighede. Ek het onlangs ‘n verhaal gelees van ‘n homoseksuele man wat tot geloof gekom het en sy verhaal vertel van hoe (hy glo) dit in sy ouerhuis begin het en die stryd wat hy gevoer het, en steeds voer tot na sy huwelik. Uit sy verhaal is dit duidelik dat hierdie man glo dat hy gay geword het as gevolg van sy omstandighede.

Die feit van die saak is egter, hy is so gebore! Hy het die gay-gene van Adam en Eva oorgeêrf met geboorte, al het dit eers tot uiting gekom met volwassenheid! Tensy hy hierdie waarheid aanvaar sal hy met sy probleem worstel tot die dood toe! (Alternatiewelik, sal hy sy ‘probleem’ 'ont-probleem' deur dit eenvoudig as ‘normale’ menslike gedrag te aanvaar wat nie verander kan word nie en die res van die samelewing dienooreenkomstig wil oortuig –– soos dit tans in die wêreld en ook in sommige kerke gebeur.)

Word ‘n dief, egbreker, leuenaar, of moordenaar so gebore of het omstandighede hulle so gemaak? Hulle met 'n humeur, of hulle wat in opstand is of was teen hulle ouers en oneerbiedig teenoor hulle is of was –– is hulle so gebore of het hulle so geword as gevolg van omstandighede? Meeste mense sal sê, omstandighede het hulle so gemaak. Dis my pa of ma of hierdie of daardie een se skuld. Jy sien, hierdie is juis die kern van sonde –– die feit dat ons altyd die oorsaak vir ons probleem buite onsself soek. Die mens soek altyd die oorsaak vir sy probleem by sy omstandighede of by iemand anders! Dit is die karakter van die sondeval! Onthou jy hoe Eva die skuld vir die slang gegee het en Adam die skuld vir Eva gegee het?

Die feit van die saak is, ons is almal so gebore! Ons het almal ‘n sonde-besmette natuur van Adam en Eva oorgeêrf met geboorte al kom dit eers tot uiting met volwassenheid! Word iemand met 'n emosionele probleem, woede, hiper-sensitiwiteit, een of ander fobie, verwerping, depressie, 'n swak selfbeeld, ‘n verhoudingsprobleem, ’n negatiewe of onrein gedagtewêreld, gewetenswroeging, haat- en wraakgevoelens, onvergewensgesindheid, pornografiese-, dwelm- of drankverslawing, so gebore of het hulle so geword weens omstandighede? Die feit van die saak is, hulle is met daardie sondige geneigdheid gebore! Ons het almal die sonde-gene van Adam en Eva oorgeêrf met geboorte, wat ookal ons besondere probleem is, al kom dit eers tot uiting met volwassenheid! 

Hiermee ontken ons nie dat omstandighede ‘n wesenlike rol speel in hoe mense ontwikkel nie –– net soos blootstelling aan fisiese bakterieë, virusse en kieme ‘n invloed het op ‘n mens se fisiese gesondheid. Of hierdie bakterieë, virusse en kieme ‘n langtermyn of kroniese gevolg in jou liggaam het hang egter af of jy vatbaar daarvoor is of nie. Dit hang af hoe jou liggaam daarop reageer. Hierdie ‘vatbaarheid’ is iets wat jy oorgeêrf het van jou ouers en word deur die wetenskap genetika genoem. Net soos jy ‘vatbaar’ is vir sekere geneties oordraagbare siektes as gevolg van jou genetika, net so is alle mense ’vatbaar’ vir sekere sondige en sielkundige afwykings as gevolg van ons sondige ‘genetika’. Die probleem lê by ons sondige ‘genetika’ of natuur wat ons van Adam en Eva oorgeêrf het.

Die ‘genetika’ van sonde verduidelik

Ons bely in die kerk dat elke baba by geboorte in sonde ontvang en gebore word. Tog glo ons dit nie wanneer daardie baba groot word en in sonde verval nie! Hoekom nie? Want ons het ‘n gebrekkige sondebegrip. Wat is sonde? Jy sien, sonde het twee dimensies. Daar is die ‘daad’ van sonde, waarmee ons almal goed bekend is, maar dan is daar ook die ‘saad’ van sonde –– die sondige natuur. Die saad van sonde lei tot die daad van sonde. Dit is belangrik dat ons hierdie twee fasette van sonde sal onderskei.

Sonde is soos manlike saad wat bevrug word, of landbousaad wat ontkiem. Ons lees byvoorbeeld in Gen 3:15: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. ...”. ‘Jou saad’, is die saad of nageslag van die duiwel wat sonde-besmette saad is; teenoor ‘haar saad’, wat ten diepste ‘n verwysing is na die Messias wat uit Eva se nageslag sou voortkom, en almal wat uit die saad van die Messias gebore sou word. Die genetiese manipulasie van landbousaad wys vir ons hoe genetika in die landbou werk.

Ons lees ook van die twee soorte saad in Jesus se gelykenis van die saaier in Mat 13:27-38: “En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. ... En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, ... Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel...” .

Die wetenskap help ons om die oorêrflikheid van sonde beter te verstaan. Ek lees die volgende beskrywing van genetika op die webblad van Psychology Today: “All traits and personality characteristics, from height to fear of heights, are driven by a complex interplay of genes and environmental feedback. We now know that the lion's share of human genes are expressed in the brain and that almost all normal and disordered behaviors are polygenic, meaning that they are influenced (not to say caused) by multiple genes. Scientists are therefore tasked with a massive but increasingly plausible mission: mapping the pathway from genes and mediating forces to the person you see in the mirror ...” (Beklemtoning my eie.)

Indien die wetenskaplikes daarin sou slaag om hierdie “pathway” te “map” tot by sy beginpunt, sal hulle by Adam en Eva en die sondeval uitkom! (Sien o.a. Dr Nathaniel Jeanson se boek, Traced! -- Human DNS points to Adam.)

Ons DNA en die Bybelse sondebegrip

DNA is die menslike liggaam se ‘handleiding’ wat jou maak wie jy is. Jy kry een helfte van jou DNA van jou vader en een helfte van jou moeder. DNA maak voorsiening vir die oordrag van genetiese materiaal van een geslag na ‘n ander. Jou DNA bepaal watter fisiese sowel as sielkundige eienskappe jy van jou ouers oorêrf. Jou DNA bepaal ook of jy vatbaar is vir sekere geneties-oordraagbare siektes sowel as sielkundige afwykings, Die wonder van hierdie kennis is dat alhoewel die wetenskap dit eers in die 20ste eeu ontdek het, het die Bybel dit reeds bykans 3,000 jaar gelede beskryf. Dawid skryf in die Psalms: “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.” (Psa 58:3.) In Psa 51:5 sê Dawid: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”  Alhoewel Dawid niks van DNA of genetika geweet het nie, het hy die effek daarvan akkuraat beskryf. 

Wat ons moet verstaan is dat ons sondige natuur gekoppel is aan ons natuurlike, fisiese lewe, of vlees, soos die Bybel dit noem, wat ons van ons ouers oorgêrf het. (Lees gerus Rom 7: 5, 18, 25; Rom 8: 1, 3, 4, 6, 7, 8, 13; Rom 13: 14; 2 Kor 10: 3; Gal 2: 20; Gal 5: 13, 16, 17, 19, 24; Gal 6: 8; Ef 2: 3.) Die woord ‘vlees’ word in die Bybel in meer as een konteks gebruik, maar verwys altyd na die liggaamlike, menslike, of fisiese lewe. Wanneer ons die woordjie ‘vlees’, (‘sarx’ in die Grieks), bestudeer in die verband van bogenoemde verse, kom ons tot die gevolgtrekking dat die betekenis daarvan beskryf kan word as ”die menslike natuur (karakter en persoonlikheid) soos gedryf deur sy oorgeêrfde, sonde-besmette, natuurlike of fisiese lewe” –– in kort, ‘sondige natuur’. Sommige Bybelvertalings het inderdaad op sekere plekke die woordjie ‘vlees’ met ‘sondige natuur’ vertaal.

Die twee lewensbronne en hulle nature

Kom ons vat nou saam. Ons het hierbo verduidelik dat daar twee lewensbonne is –– fisiese sowel as geestelike lewe. Teenoor die vleeslike of fisiese lewe met sy sondige natuur, staan die geestelike lewe waarvan die bron die inwonende Heilige Gees is. Ons het vroeër gesê dat elkeen van ons ‘n dormante of dooie gees oorgeêrf het met geboorte. Ons kan baie van die geestelike lewe leer deur eenvoudig fisiese lewe te bestudeer. So het ons dan ook hierbo fisiese geboorte met geestelike geboorte vergelyk. Net soos elke mens ‘n sonde-besmette DNA oorêrf met fisiese geboorte –– wat in sy ‘vlees’ of fisiese lewe gesetel is, net so êrf ‘n kind van die Here ‘n rein en suiwer geestelike lewe en ‘DNA’ van God oor met wedergeboorte –– wat in sy gees gesetel is!

Die Intellek en Emosie
Die Sielsterreine

Laat ons nou eers kortliks die INTELLEK en EMOSIE van nader bekyk.

Die Intellek is die kognitiewe deel en die Emosie die gevoelsdeel van ons sielsdimensie. Ons Intellek en Emosie bestaan uit ons Gedagtewêreld, Rede, Gewete, Verbeelding, Geheue, Onderbewussyn, Selfbeeld, Waardesisteem, Gemoed of Emosie, en ons Disposisie.

Wat belangrik is om te verstaan is dat elkeen van hierdie terreine van ons sielsdimensie besmet is deur die sondesaad van Adam en onder die beheer van ons oorgeêrfde sondige natuur staan. God wil hierdie terreine herskep na Sy beeld. Hy wil dat ons sal dink, redeneer, droom, onthou, oor onsself dink, moraliseer, voel en reageer soos God. Die Bybel noem dit heiligmaking. Heiligmaking is die proses waarvolgens die Here ons gevalle karakters en persoonlikhede herskep na Sy beeld.

Ons kan dus nou verstaan dat vir God om ons karakter en persoonlikheid na Sy beeld te herskep, moet die terreine van ons Wil, Intellek en Emosie onder die beheer van die geestelike lewe – die inwonende Heilige Gees, kom. 

Die vraag waarmee Christene egter worstel is, kom die mens se sielsdimensie, sy Wil, Intellek en Emosie dan nie outomaties onder die beheer van die Heilige Gees met wedergeboorte nie?

Die dilemma van die Christen se twee nature

Ons het net-nou gesê, net soos elke mens ‘n sonde-besmette DNA oorêrf met fisiese geboorte, net so êrf ‘n kind van die Here die rein en suiwer geestelike ‘DNA’ van God oor met wedergeboorte! Dit is egter presies hier waar die weergebore kind van die Here nou met ‘n dilemma sit –– hy besit twee nature! Hy het ‘n nuwe Goddelike natuur wat in sy gees gesetel is, maar hy sit ook nog met sy ou sondige natuur wat hy van Adam oorgeêrf het in sy sielsdimensie, naamlik sy Wil, Intellek en Emosie. 

Die twee nature

Paulus beskryf hierdie dilemma van die Christen se twee nature meesterlik in Romeine 7:14-24: “Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. ... Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. ... Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Beklemtoning my eie. Die oorspronklike woord wat hier as “lede” vertaal word beteken, ‘’n deel of dele van die liggaam’.)

In Gal 5:17 beskryf Paulus dit so: “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” (Beklemtoning my eie.)

Dit wat Paulus hierbo beskryf is die oorsaak van ‘n doellose lewe, elke sielkundige stryd, geestelike neerlaag, sielsontevredenheid, gebrek aan lewensvreugde, onvervuldheid, patrone van onsekerheid, ongelukkigheid, neerslagtigheid en depressie, minderwaarigheid of meerderwaardigheid, ‘n swak selfbeeld, verwerping, aggressie en onbeteulde humeur, onvergewensgesindheid, verdeeldheid in die huis en in die kerk, huweliksverbrokkeling, gesinsverbrokkeling, emosionele bindinge, seksuele- homoseksuele en pornografiese bindinge, en elke ander simptoom waaraan jy kan dink –– in die lewens van weergebore Christene!

Is daar ‘n oplossing vir hierdie stryd? Verseker! Sou Jesus Christus aan die Kruis gesterf het om die Christen in ‘n doellose lewe en ‘n verlore stryd teen sy sondige natuur te dompel vir die res van sy aardse lewe? Nooit! Ons het hierbo Paulus se woorde aangehaal in Rom 7:14-24. In vers 24 vra hy die vraag, “Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” In vers 25 beantwoord hy sy eie vraag: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”, en dan beskryf hy die probleem: “So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.” (Beklemtoning my eie.) 

In Romeine 8 gee hy die oplossing. Voor ons egter by die oplossing uitkom, gaan ons eers die derde doelwit van God vir jou lewe behandel, want die oplossing vir beide doelwitte is dieselfde. 

Doelwit 3.   Om jou te gebruik hier op aarde.

Die Here wil jou toerus en bekragtig om Hom hier op aarde te verteenwoordig en Sy instrument te wees deur Sy skeppingsdoel te help uitvoer deur jou getuienis en medewerking in Sy plan en doel vir die wêreld, in afwagting van Jesus Christus se wederkoms. Ons het by Doelwit 1 gesê dat een van die ses belangrikste kenmerke van ‘n weergebore kind van God is ‘n passie om die Evangelie te deel en andere vir Jesus te wen –– om ‘n getuie vir Jesus te wees. Iemand wat oor geestelike lewe beskik het ‘n passie om geestelike lewe in andere te verwek.

Een van die belangrikste kenmerke van fisiese lewe is die drang om voort te plant. Die wêreld noem dit die seksdrang. Dit is daardie begeerte om seksueel intiem met jou huweliksmaat te wees. Seksuele omgang is die hoogtepunt van die liefde tussen ‘n man en vrou. Daarom trou mense en het hulle kinders. Die huwelik en huisgesin is ‘n Goddelike instelling en daarom moet ‘n liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou op ‘n Bybelse fondament staan en lei tot ‘n Godgesentreerde huwelik. Enige liefdesverhouding tussen jou en iemand van die teenoorgestelde geslag wat nie in harmonie met die Woord van God is en nie lei tot ‘n Godgesentreerde huwelik nie, is BUITE die wil van God vir jou lewe! Toe God vir Adam en Eva geskep het, het Hy vir hulle die opdrag gegee, “wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Gen 1:28.) Soos ons reeds in Deel 1 beskryf het, wil God ‘n nageslag verwek na Sy beeld –– en dit is God se primêre doel vir die huwelik!. 

Die rede waarom God homoseksualiteit haat en gay-huwelike teen Sy wil is, is omdat dit teenstrydig is met Sy skeppingsdoel vir die mens! God wil ‘n nageslag hê na Sy beeld! Die huwelik is in die eerste plek ingestel ter wille van God –– nie die mens se plesier en bevrediging nie! Dit beteken nie dat die huwelik ook vir die mens se vreugde bedoel is nie, maar wanneer die mens die gawes van God primêr vir sy eie doel en begeertes gebruik, is die gevolg op die langtermyn ALTYD hartseer, lyding, stryd, onvrede, mislukking, en vernietiging. Dit is God se wil dat die mens sy vervulling en lewensvreugde binne God se doel en plan vir sy lewe sal vind. As jou huwelik nie voldoen aan God se primêre doel vir die huwelik nie, of as jy jou huwelik primêr in stand hou vir jou en jou huweliksmaat se geluk en bevrediging, sal jy nooit volkome huweliksgeluk vind nie! Laat ons herhaal wat ons nou al ‘n paar maal gesê het: “tensy jy AL DRIE bogenoemde Goddelike doelwitte deelagtig word sal jy ‘n onvervulde en onvoltooide mens sterf, want God het jou so gemaak dat jy ware vervulling en voltooiïng slegs binne God se volledige doel en plan vir jou lewe sal vind!”

Laat ons egter terugkeer na die passie om geestelike lewe te verwek. Jy sal onthou dat ons gesê het dat Adam en Eva voor die sondeval beide fisiese en geestelike lewe gehad het, maar dat met die sondeval hulle gees dormant geword het en hulle hul geestelike lewe verloor het. Jesus Christus het die vloek van die sondeval vernietig aan die kruis; en deur Sy opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, het Hy die weg gebaan vir die verwekking en herlewing van geestelike lewe in elke mens wat Hom in geloof aanneem.

Deur die inwonende Heilige Gees is God besig om vir Hom ‘n geestelike nageslag na Sy beeld te verwek, en Hy doen dit deur Sy kinders. Dit is God se wil en plan vir jou lewe dat jy geestelik vrugbaar sal wees! Dit is God se wil en plan vir jou lewe dat jy geestelik sal reproduseer! Die hoogtepunt van die liefde vir God –– die liefde tussen ‘n weergebore kind van God en Jesus Christus, is geestelike voortplanting! Die onvermydelike gevolg van geestelike gemeenskap tussen ‘n kind van God en Jesus Christus is geestelike vrugbaarheid. Die resultaat moet noodwendig wees –– geestelike kinders! Hoeveel geestelike kinders het jy al vir God verwek? Of, watter bydrae het jy al gelewer tot die bevolking van die hemel?

Hoe wil God jou as Sy verteenwoordiger en instrument gebruik om Sy skeppingsdoel te help uitvoer?
1. Hy wil jou getuienis gebruik

Han 1:8: "... maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde."

Hy wil hê dat jy deur jou leefstyl en kommunikasie met mense in jou familie-, sosiale-, werks-, en digitale omgewing, ‘n geestelike en hemelse doelgerigte lewe sal uitstraal en deel, wat ander sal lei na dieselfde ervaring as jy. Om ‘n effektiewe getuie vir Jesus te wees moet ’n mens natuurlik ’n getuienis en lewe van geestelike en hemelse doelgerigtheid hê. Het jy so ‘n getuienis en leef jy dit uit ter uitbreiding van Sy Koninkryk?

2. Hy wil jou beroep gebruik

Mat 4:19: "En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.."

Hy wil jou beroep, jou opleiding en jou vaardighede gebruik vir Sy doel. Hy wil jou beroep verander in ‘n roeping. Die Here het ‘n spesiale roeping vir elke Christen en ook vir jou! Hy het ‘n spesiale taak vir jou wat net jy kan vervul! Is jy tot Sy beskikking wanneer Hy jou sou roep?

Miskien sê jy, maar ek het geen spesiale roeping van God ontvang nie. Dit mag wees dat jy reeds in die area van God se roeping vir jou lewe funksioneer maar jy erken dit nie as sulks nie; of Sy roeping mag nog in die toekoms kom. Die Here sal egter nie Sy roeping vir jou openbaar totdat jy gereed is om dit te ontvang nie. Die waarheid om hier te verstaan is dat dit van primêre belang is om te weet dat jy binne die wil van God vir jou werk en beroep staan.

3. Hy wil jou huwelik gebruik

Gen 1:27,28: "En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, ..."

Hy wil jou huwelik gebruik as ‘n standaard en voorbeeld vir jou kinders en die wêreld om die hemel te help bevolk. Ons het hierbo reeds heelwat oor die huwelik gesê. Die vraag is, is Jesus Christus Here van jou liefdesverhouding of jou huwelik? Is jou liefdesverhouding of jou huwelik in harmonie met die Woord van God, en tot beskikking van die Here om die hemel te bevolk? Dit gaan nie hier primêr oor ‘n fisiese nageslag nie, maar ‘n geestelike nageslag. Uit die aard van die saak sluit dit ons kinders in en is hulle ons eerste geestelike verantwoordelikheid.

Tensy jou huwelik die model en standaard van die Bybel weerspieël, sal jou huwelik onvervuld wees. Tensy albei van julle in die eerste plek onvoorwaardelik aan Jesus Christus en die gesag van Sy Woord onderworpe is, sal die Here julle huwelik nie seën en gebruik vir Sy doel nie. As julle wil hê dat die Here julle huwelik moet seën, maak seker dat julle huwelik op elke terrein, ook wat die Goddelike gesagstruktuur binne die huwelik en gesin aanbetref, aan die gesag van Sy Woord onderwerp is!

4. Hy wil jou kinders gebruik

Luk 1:13-17: "Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. 14  En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; 15  want hy sal groot wees voor die Here ... 16  En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. 17  En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei."

Dit is die Here se doel en plan vir elke vader en moeder om ons kinders op te voed in die vrese van die Here –– maar meer as dit, dat ons kinders hul Goddelike doel en roeping sal verstaan! Dit is die Here se doel en plan vir ons lewens dat ons, ons kinders sal opvoed in die doel en plan van God vir hulle lewens. Ons moet ons kinders dus van kleins af leer wat dit beteken om die wil van God vir hulle lewens te soek. 

Hierdie proses begin by ‘n baie belangrike punt, en dit is om ons kinders weg te gee aan die Here met geboorte. Daar moet geen twyfel by ons kinders wees nie –– elkeen van hulle is met hul geboorte aan die Here toegewy en weggegee! Dit beteken dat ons alle reg aan die Here oorgedra het om ons kinders vir Sy doel te gebruik. Ons het ons eie ideale vir ons kinders oorgedra aan die Here en vervang met Sy ideale vir hulle lewens. Dit beteken dat hulle Sy eiendom is om deur Hom gebruik te word vir Sy doel soos Hy wil. Hulle is ‘verbondskinders’!

Dit beteken egter nie dat hulle van geboorte af gered is nie. Elkeen van hulle moet nog steeds weer gebore word en afgesonder word vir God se doel vir hulle lewens deur ‘n keuse van hulle eie vrye wil. Maar hulle moet weet dat hoe langer hulle neem om by daardie plek te kom waar hulle hulself onvoorwaardelik tot Sy beskikking stel, hoe pynliker sal die gevolge wees – want ter wille van ons as ouers se verbond met Hom, sal die Here hulle nie uitlos nie!

5. Hy wil jou talente en gawes gebruik

Mat 25:14,15: "Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. 15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan."

Elke mens op aarde het sekere talente en gawes van God ontvang met geboorte –– sommige meer en ander minder –– maar elke mens op aarde het ‘n talent! Daardie talente en gawes behoort aan God en hy het dit aan jou geleen om te ontwikkel, aan te wend en te gebruik vir Sy doel en tot Sy eer!  Kan ek vir jou ‘n onfeilbare formule vir ‘n mislukte lewensdoel gee? Hier is dit: ‘gebruik en wend jou talente en gawes hoofsaaklik vir jou eie doel en jou eie lewensbehoeftes en plesier aan’. Aan die einde van jou lewe sal jy saam met Salomo in Pred 1:14 getuig: “Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind.” 

6. Hy wil jou geld en besittings gebruik

2 Kor 9:6-8: "Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 7  Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 8  En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk."

Dieselfde wat ons hierbo met betrekking tot jou talente en gawes gesê het, geld ook vir jou geld en besittings. As jy ‘n kind van die Here is, behoort dit nie aan jou nie! Jy kan nie daarmee maak wat jy wil nie. Dit is deur God aan jou geleen vir Sy doel! Jy is slegs die rentmeester of bestuurder daarvan. Wees verseker, net soos in Jesus se gelykenis in Matteus 25 van die tien talente, sal Hy van jou rekenskap eis vir die wyse waarop jy Sy finansiële gawes bestuur het.

7. Hy wil jou tyd gebruik

Kol 4:2,5: "Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging; ... 5  Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit."

Wat hierbo geld vir jou talente, gawes, geld en besittings, geld ook vir jou tyd. Hoeveel tyd sou jy graag wou hê dat God moet bestee om Homself aan jou te openbaar, jou te beskerm, jou te lei, jou te dra deur beproewing, en jou en jou gesin te lei en seën? Maak seker dat die antwoord op hierdie vraag nie meer is as die tyd wat jy gewillig is om in Sy teenwoordigheid en vir Sy doel op aarde af te sonder nie!  Is die tyd wat jy aan God gee beperk tot ‘n Sondag erediens? Moet dan nie verbaas wees as dit die enigste tyd is wat Hy vir jou het nie! 

Hoe vind en leef mens God se doel en plan vir jou lewe?

Die vraag is nou, hoe kan ons die Here se doel en plan vir ons lewens deelagtig word en uitleef?  Menslik gesproke is dit onmoontlik! Geen mens kan in menslike krag so ‘n lewe lei nie, en die rede waarom meeste Christene daarin misluk is omdat hulle probeer om dit in menslike krag, met hulle natuurlike lewe en vermoëns te doen.  

Die antwoord is om met die Heilige Gees vervul te word! Liewe vriend, jy moet met die Heilige Gees vervul word! Geen mens kan ‘n Goddelike doelgerigte lewe lei sonder om met die Heilige Gees vervul te wees nie. Geen mens kan so ‘n lewe lei nie – dit is slegs die Heilige Gees wat dit deur jou kan leef! Daarom het Jesus in Han 1:8 gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom ...” en in Ef 5:8 lees ons: “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” Die geheim van ‘n oorwinnende, oorvloedige geestelike lewe is ‘n Geesvervulde en Geesbeheerde lewe. 

Die Heilige Gees wil jou vul met Goddelike krag en passie. Die Heilige Gees wil aan jou ‘n oorwinnende lewe skenk –– oorwinning oor jou sondige natuur en sondige patrone, oorwinning oor jou denke en jou emosies, oorwinning oor jou intellektuele en emosionele stryd, oorwinning oor die wêreld en jou omstandighede, oorwinning oor jou sielkundige probleme, oorwinning in jou huwelik en gesinslewe, oorwinning in jou werk en werksomstandighede, oorwinning in jou verhoudinge. Die Heilige Gees wil  aan jou ‘n lewe van geestelike krag gee. Hy wil aan jou krag gee om Sy getuie te wees, krag om te dien, krag om heilig te lewe, krag om sonde te oorwin, krag om te vergewe, krag om versoeking te oorwin!

Liewe vriend, ‘n Heilige Geesvervulde en –beheerde lewe is die enigste lewe wat die moeite werd is om te lewe! Dit is die enigste lewe wat jou nie êrens op jou pad by ‘n doodloopstraat sal uitbring nie! Dit is die enigste manier om God se hemelse doel en plan vir jou lewe deelagtig te word en daarin te wandel! Elke ander pad sal jou by ‘n doodloopstraat uitbring –– indien nie nou nie, op jou sterfbed! Salomo was die rykste, slimste en welvarendste man in die wêreld van sy tyd en dit is hoe hy sy lewe aan die einde daarvan beskryf het: “Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. ... Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.” (ANV. Pred 2:9-11) Jy wil tog nie so eindig op jou lewenspad nie, wil jy?

Die vraag is nou, wat wil jy? Wil jy met die Heilige Gees vervul word? Ons het vroeër gesê dat ons sielsdimensie bestaan uit ons Wil, Intellek en Emosie. Dit is belangrik dat ons die funksie van ons Wil mooi sal verstaan.

Die rol van jou WIL

Wat presies is die WIL? Jou Wil is daardie eienskap waarmee God jou geskape het wat jou ‘n soewereine persoon maak. Jy het al baie gehoor dat God soewerein is. Wat beteken dit? John Piper beskryf God se soewereiniteit soos volg: “God’s sovereignty is his right and power to do all that he decides to do.” Dit beteken dat God Sy eie besluite maak, onafhanklik dink en voel, en deur niks en niemand anders gemanipuleer of beïnvloed word nie. Net so het God die mens na Sy beeld as ‘n soewereine wese geskep. Dit beteken dat die mens sy eie besluite maak, onafhanklik dink en voel, en dat die mens nie deur God gemanipuleer word soos ‘n pop in ‘n poppespel nie. Dit is waarom Adam en Eva in sonde geval het sonder dat God dit verhoed het. Met ander woorde, die mens beskik oor die vermoë om vir, of teen God te kies. God wil ‘n nageslag hê na Sy beeld –– nie ‘n klomp poppe nie –– net soos jou eie kinders na jou eie beeld gebore word met ‘n WIL van hul eie. 

Jou WIL is die troonkamer van jou Siel. Jou WIL is die sleutel tot jou sielsdimensie. Met jou WIL kan jy enige deel van jou sielsdimensie oop- of toesluit vir God. Jou WIL is daarom ook die sleutel tot ‘n Heilige Geesbeheerde lewe. Net soos Adam en Eva deur ‘n stap van hulle eie WIL aan God ongehoorsaam geword het, net so soek God nou manne en vroue wat deur ‘n stap van hulle eie WIL hulleself aan God sal oorgee tot ‘n lewe van gehoorsaamheid. Die geheim van heiligmaking, ’n herstelde karakter en persoonlikheid na die beeld van God, die vervulling met die Heilige Gees en ‘n Geesbeheerde lewe behels ‘n vrywillige, algehele en onvoorwaardelike Wilsoorgawe in geloof aan Jesus Christus!

In wese beteken dit dat ek aan die Here volmag gee om Sy Goddelike doel in en deur my lewe te kom vervul. Jesus het hierdie worsteling in die tuin van Getsemane deurgemaak toe Hy gebid het, “nie My wil nie, maar U wil geskied”. So het Jesus ons ook leer bid in Sy bergrede, “... laat U wil geskied”. By implikasie beteken dit dat ons niks sal terughou vir God wat ons nie bereid is om in harmonie met Sy geopenbaarde wil vir ons lewens te bring nie.

Hoe word ‘n mens met die Heilige Gees vervul?

Daar is ses fundamentele Bybelse beginsels of waarhede van ‘n oorvloedige, oorwinnende en Geesvervulde lewe. Hierdie waarhede bestaan uit drie fundamentele Bybelse waarhede wat jy moet weet, en drie fundamentele Bybelse waarhede waarop jy moet reageer. Ons het reeds al ses van hierdie waarhede behandel deur die loop van ons bespreking, maar laat ons dit ter wille van duidelikheid weer opsom.

Die drie fundamentele Bybelse waarhede wat jy moet weet:
  • God het ’n dinamiese plan en ’n hemelse erfenis vir jou van Goddelike doel, geestelike oorvloed, oorwinning, en ’n Geesvervulde lewe.

  • Die sondeval, jou eie sonde en jou oorgeêrfde sondige natuur is die enigste rede waarom jy nie God se doel en plan vir jou lewe, die volheid van die Heilige Gees, Sy erfenis, oorvloed, en oorwinning in jou lewe ervaar nie.

  • Jesus Christus is God se volkome en enigste voorsiening, en die mens se volkome en enigste oplossing vir die probleem van die sondeval, persoonlike sonde en jou oorgeêrfde sondige natuur.

Die drie fundamentele Bybelse waarhede waarop jy moet reageer:
  • Geloof! Ongeveinste geloof in Jesus Christus, Sy kruiswerk (die Evangelie) en Sy Woord (die Bybel), is die sleutel tot ’n Geesvervulde lewe, geestelike oorvloed, oorwinning, en die volheid van Sy erfenis. (Mat 9:29: “Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof.”)

  • Bekering! Geloof in Jesus Christus, Sy kruiswerk en Sy Woord, behels ’n heelhartige bekering van alle bewuste sonde. Jy moet jou rug draai op elke sonde waarvan die Heilige Gees jou oortuig deur Sy Woord. (Han 3:19: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,”)

  • Algehele oorgawe! Geloof in Jesus Christus en Sy kruiswerk behels ’n sterwe aan jou ou self, of ou mens –– jou ‘vlees’ of sonde-besmette aardse lewe –– en ’n algehele en onvoorwaardelike oorgawe van elke terrein van jou sielsdimensie aan die beheer van Jesus Christus wat deur Sy Gees in jou gees woon. Hierdie is ook die oplossing vir die dilemma van die Christen se twee botsende nature wat ons in Doelwit 2 bespreek het. Sien die illustrasie hieronder. “... Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (Rom 12:1 – ANV)

Die geheim van ‘n Geesvervulde en oorwinnende lewe
Die gekruisigde lewe

Algehele oorgawe is waarskynlik dié Bybelse onderwerp waaroor die meeste verwarring, misverstand en onkunde heers. Dit is waarom so min weergebore Christene waarlik met die Heilige Gees vervul word. Daarom gaan ek ‘n bietjie tyd neem om hierdie onderwerp mooi aan jou te verduidelik.

Algehele oorgawe is ‘n manier om te beskryf hoe ‘n mens jouself, of jou ou mens, of jou sondige natuur, oorgee om saam met Jesus Christus gekruisig te word. Ons praat hier van ‘n geloofsidentifikasie met Jesus Christus en Sy kruiswerk. 

Die geheim van oorwinnende geloof is om jou ten volle met Jesus se plaasvervangende kruisdood en opstanding te vereenselwig en te identifiseer deur geloof. Die geloof waarvan die Bybel praat beteken om jou met Jesus Christus te indentifiseer in Sy dood en opstanding. Die Bybel leer vir ons dat die plaasvervangende offer van Jesus beteken dat jy en ek in Hom was toe Hy gesterf en opgestaan het uit die dood. Hierdie waarheid bly egter slegs ‘n juridiese waarheid vir solank jou geloof passief is. Hierdie waarheid sal slegs realiseer in jou lewe wanneer jy dit vir jouself toe-eien deur aktiewe geloof in algehele oorgawe.

Paulus verduidelik hierdie geloofsidentifkasie met Jesus Christus se kruiswerk vir ons op verskillende plekke, onder andere in Gal 2:20: "Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." (AOV) In Romeine 6 beskryf Paulus dit so: "Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. ... As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, ..." Rom 6:3-8. (AOV)

Die betekenis van algehele oorgawe

In Rom 12:1 verduidelik Paulus die betekenis van algehele oorgawe soos volg: “En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (ANV) Paulus verwys hier na die offers van die Ou Testament waartydens die Israeliete ‘n dier geslag en op die altaar geoffer het. Met ander woorde, nou moet ek my natuurlike mens en ou self, my ou fisiese lewe met al sy sondige en egosentriese neigings, voorliefdes, begeertes, denkwyses en ideale, aan God oorgee om saam met Jesus Christus gekruisig.te word.

Algehele oorgawe behels ook ‘n oorgawe van die 7 ‘goeie’ dinge in jou lewe aan Hom soos ons dit hierbo verduidelik het. Met ander woorde, dit is ‘n doelbewuste en vrywillige geloofsterwe aan jou selflewe en ‘n geloofsoorgawe van elke terrein van jou lewe aan die beheer van die Heilige Gees wat in jou woon. Met ander woorde, jy plaas nou jou geestelike lewe –– die Goddelike natuur binne in jou –– in beheer van jou lewe in die plek van jou sonde-besmette aardse lewe wat jou tot nou toe gedomineer en beheer het. Dit beteken dat in plaas van jou aardse lewe, jou geestelike lewe nou dominant en in beheer kom van jou sielsdimensie.

Een van die grootste redes waarom weergebore Christene nie met die Heilige Gees vervul word nie is omdat hulle die Heilige Gees beperk tot sekere areas van hulle lewe en sekere vertrekke van hulle hart. Hulle wil twee lewes leef –– ‘n aardse lewe en ‘n geestelike lewe parallel langs mekaar. Die geheim van ‘n oorwinnende geestelike lewe is ‘n totale oorname van die geestelike lewe in jou lewe. Dit behels ’n algehele oorgawe van jou WIL met betrekking tot elke terrein van jou lewe en elke kamer van jou hart, tot onderwerping aan die wil van God vir jou lewe soos dit tot openbaring kom in Sy Woord! Dit is ‘n totale oorgawe aan die gesag van God en Sy Woord, insluitende Sy gedelegeerde gesag oor jou lewe. 

Wat is Sy gedelegeerde gesag? Dit is die gesag van die owerhede, die kerk, die skool, die huwelik en die gesin –– in soverre dit nie in konflik met die Woord van God is nie. Solank daar opstandigheid, onvergewensgesindheid, of verset in jou hart is teenoor die regering, jou kerkleierskap, jou baas by die werk, jou man as koning, priester en profeet van julle huis, jou vrou, jou pa of ma, of jou onderwyser, sal jy nie die volheid van die Heilige Gees ontvang nie, en sal jy nie groei tot geestelike volwassenheid nie!

Wat hou jy nog vir God terug? Wat is daar in jou lewe wat jy nie gewillig is om prys te gee om in harmonie met God se Woord en wil vir jou lewe te kom nie? Een of ander onbelyde sonde, verslawing of binding? Bitterheid, opstandigheid of verset? Jou politieke, sosiale, godsdienstige of kerklike standpunte en denke? Seer of onvergewensgesindheid? Jou eer en reputasie? Jou sekuriteit? Jou voorliefdes? Jou werk? Jou tyd? Jou besigheid, eiendom, of geld? Jou ontspanning of plesier? Die programme of videos waarna jy kyk op TV, jou rekenaar of slimfoon? Jou verhoudinge, vriende of familie? Jou voorkoms en kleredrag? Laat die Heilige Gees maar toe om Sy ‘vinger’ op daardie ding in jou lewe te druk wat jou weerhou van God se volheids- en oorwinningslewe vir jou.

Die eerste gebod sê, jy moet die Here jou God lief hê met jou hele hart, siel en verstand. (Mat 22:37,38.) Dit beteken jy mag geen ander gode voor Sy aangesig hê nie, en ‘n afgod is enige iets wat jy vashou, koester of beskerm, wat nie in volmaakte harmonie met God se woord, wet, wil en plan vir jou lewe is nie.  

'n Heilige Geesbeheerde lewe vloei voort uit twee geloofsaksies -- 'n geloofsverbintenis (of algehele geloofsoorgawe) en 'n geloofswandel -- 'n stap van geloof en 'n wandel in geloof. Net soos jou wedergeboorte bestaan uit 'n verbintenis, daardie eerste stap van geloof en daarna 'n wandel in geloof; so bestaan 'n Geesbeheerde lewe uit 'n eerste stap van algehele geloofsoorgawe en daarna 'n wandel in geloof. Die rede waarom baie Christene onsuksesvol is om in 'n Geesbeheerde lewe te wandel, is omdat hulle die eerste stap, naamlik, die geloofsverbintenis (of algehele geloofsoorgawe) -- die stap van geloof, gemis of gesystap het.

Nou is die GROOT vraag, wil jy? Wil jy met die Heilige Gees vervul word? Is jy desperaat genoeg om met die Heilige Gees vervul te word? Of is jy tevrede om in jou huidige toestand van doelloosheid en ‘n lewe van geestelike armoede voort te ploeter? Is jy gewillig om ‘n stap van geloof te neem en Jesus Christus te vertrou om jou met Sy Heilige Gees te vervul? 

Die enigste vraag waarop jy ‘ja’ moet kan antwoord is die volgende: Is jy bereid om Jesus Christus ten volle te vertrou op elke terrein van jou lewe en met alles wat jy besit? As jy hierop ‘ja’ geantwoord het, nooi ek jou nou om die onderstaande gebed saam met my te bid.

Die gebed van geloof -- die geloofsverbintenis

Aktiewe geloof begin altyd by gebed! Gebed is die primêre uitdrukking van geloof. Daarom vra ek jou om eers hierdie gebed deur te lees, en as jy gereed is om die geloofstap te neem, maak dit jou persoonlike hartsgebed. Maak toe jou deur en bid dit hardop vir die Here.

Dierbare Here Jesus Christus, ek verstaan dat U aan die kruis van Golgota met U eie Bloed betaal het, nie alleen vir my sondeskuld nie, maar ook vir my verlossing en bevryding van die mag van sonde en my sondige natuur! Ek verstaan ook dat U ’n wonderlike plan van oorwinning en vrugbaarheid vir my lewe het en dat U my wil vul met U Heilige Gees!

Ek kom in hierdie oomblik in diepe verootmoediging na U troon van genade toe. Ek bely dat my lewe nie op U standaard is nie! Ek erken die verdorwenheid van my eie sondige natuur! Ek bely dat ek nie oorwinning oor sonde en my sondige natuur het nie en dat ek tot nou toe U volmaakte doel en plan vir my lewe gemis het. Ek kom kniel nou in diepe berou oor my eie sondige toestand, my selfgesentreerdheid en my ongeloof by die kruis van Jesus. Ek bely ook elke sonde waarvan ek bewus is in my lewe. (Bely elke bewuste sonde by die naam voor God waarvan die Heilige Gees jou oortuig, en sluit elke toegangspoort vir Satan en sy bose magte deur Jesus se bloed, in geloof.) Was my rein van elke sonde in die Bloed van die Lam, en skep vir my ’n rein hart, O God! 

Ek draai hierdie oomblik my rug op sonde in my lewe en ek sluit ’n verbond met U om my te onderwerp in gehoorsaamheid aan U Woord, U wet, U wil en U plan vir my lewe! Ek gee in hierdie oomblik my aardse selflewe en my sondige natuur oor om saam met Christus gekruisig te word, en ek neem my posisie in as gekruisigde saam met Christus in die geloof! Ek
(plaas jou eie naam hierin) is saam met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my; en die lewe wat ek nou nog hier in die wêreld lewe, leef ek deur geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê! (Gal 2:20)

Ek kom gee my hele lewe, insluitende my WIL, INTELLEK en EMOSIE algeheel en onvoorwaardelik aan U oor! Alles wat ek is en wat ek besit, gee ek aan U sodat U U hemelse plan in en deur my lewe tot uitvoering kan bring! Wat eers vir my belangrik was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus! (Fil 3:7-11) Kom neem asseblief beheer oor van elke terrein van my lewe! Vul nou my hart en lewe met U Heilige Gees!

Dankie vir die beloftes van U Woord en ek eien in hierdie oomblik elke belofte in U Woord wat vir my bedoel is vir myself toe in geloof! Ek glo U wanneer U sê dat U dié beloon wat U met hulle hele hart soek! Ek glo dat U nou volle beheer van my lewe oorgeneem het deur U Heilige Gees.

Deur die geloof kom neem ek ook nou my opstandingsposisie en oorwinnaarsposisie in op grond van U Woord, in die Naam van Jesus Christus my Here! Ek is saam met Christus opgewek uit die dood! (Rom 6:3-8) Ek is ook saam met Christus gesete in die hemel! (Ef 2:6)

Ek loof en prys U, Here Jesus! Ek het U lief, Here Jesus! Amen. 

Die wandel in geloof

1. Nou moet jy op die Woord van God staan en in die beloftes van Sy Woord wandel. Moenie op gevoelens staatmaak en na bonatuurlike manifestasies of bewyse soek nie! Gaan net eenvoudig vorentoe in geloof! Geloof! Geloof! Geloof! Geloof in God en Sy Woord! As daar bonatuurlike manifestasies volg, is dit 'n bonus - maar moenie daarop staatmaak nie want dit kan kom en gaan en verskil van persoon tot persoon. Die bewys van die vervulling met die Heilige Gees is NIE een of ander manifestasie nie. Die bewys van die vervulling met die Heilige Gees is 'n oorvloedige en passievolle geestelike lewe, verlossing van, en oorwinning oor die mag van sonde en die sondige natuur waarvan die vrug vir ons beskryf word in Gal 5:22. Die enigste bonatuurlike manifestasie wat jy moet verwag is dat jy vry en verlos is van ‘n sondige, doellose en vrugtelose aardse bestaan –– en dat jy die getuienis in jou hart het dat jy met die Heilige Gees vervul is! 2 Kor 3:17 sê: "Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid." En Gal 5:22 sê: "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."  

2. Jy moet daagliks wandel in die Gees. Om met die Heilige Gees vervul te wees is nie slegs ’n eenmalige gebeurtenis wat êrens in die verlede gebeur het nie. Die geheim om in die Gees te wandel behels dieselfde ses fundamentele Bybelse waarhede wat ons hier bo bespreek het. Behalwe die drie waarhede wat jy moet weet en jouself voortdurend aan moet herinner, moet jy daagliks in Geloof, Bekering en Algehele Oorgawe wandel. Dit word genoem die gekruisigde lewe. Met ander woorde, identifiseer jouself met die dood en opstanding van Jesus Christus as ‘n lewenswyse. Gee aan sonde geen plek nie. Moenie toelaat dat jou ou mens en ou natuur weer van die kruis afkom nie! Wandel in ‘n gekruisigde en opgestane lewe saam met Christus! 

Onthou jy sal steeds versoeking beleef! Moenie dat die duiwel jou bloots ry nie! ‘n Versoeking word eers sonde wanneer jy daaraan toegegee het. Versoeking begin gewoonlik in jou gedagtes en emosies. Wanneer jy besef jou gedagtes of emosies is op ’n syspoor en nie in harmonie met die Woord van God nie, weerstaan die gedagtes en emosies in die Naam van Jesus Christus. Sê hierdie woorde hardop (waar jy alleen is): ”Ek weier hierdie gedagtes of emosies in die Naam van Jesus Christus. Ek is saam met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. Ek pleit die Bloed van Jesus Christus oor my Gedagtewêreld en Emosie (en liggaam). Die Bloed van Jesus Christus reining my, verlos my en maak my vry (en genees my) van alle sonde, (en siekte) en sataniese dwingelandy ( of demoniese oppressie).” (Jy kan ’siekte’ ook hierby insluit as jy vermoed dat jy deur die duiwel aangeval word in jou liggaam.)

3. Elke Geesvervulde kind van God ontvang ook 'n spesiale gawe van die Heilige Gees waarmee jy die Here moet dien! Daar is algemene gawes van die Heilige Gees sowel as spesiale gawes van die Heilige Gees. Elke kind van die Here ontvang die Heilige Gees met Sy algemene gawes. Elke Geesvervulde kind van die Here ontvang egter ook 'n spesiale gawe. Die spesiale gawes wat die Here uitdeel is onbeperk en verskil van persoon tot persoon. Moenie dink dat omdat iemand anders 'n bepaalde spesiale gawe het jy dieselfde gawe moet hê nie.

Ons lees byvoobeeld in Ex 31:3-5: "Kyk, Ek het Besáleël die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk, om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper, en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk." In die Ou Testament het die Heilige Gees slegs sekere geroepenes vervul en gesalf vir 'n bepaalde taak, maar op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort op die hele Kerk. Die feit dat elkeen op Pinksterdag in Han 2:8 in 'n bekende taal gepraat het is 'n vervulling van Han 1:8: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde." Hiervoor is ook jy geroep, naamlik om ‘n getuie vir Jesus Christus te wees met die spesiale gawe wat jy ontvang het!

Hoe sal jy weet wat jou spesiale gawe is? Die Heilige Gees sal dit self op die regte tyd aan jou openbaar as jy vervul is met die Heilige Gees. Wees maar geduldig, somtyds, soos in die geval van Besáleël in Ex 31:3-5 hierbo, kom dit eers tot openbaring wanneer jy in gehoorsaamheid aan die Here se opdrag, betrokke raak in Sy diens. Moet egter nooit tevrede wees met die gedagte dat jy geen spesiale gawe ontvang het nie. As dít jou getuienis is, soek die volheid van die Heilige Gees -- nie 'n gawe of manifestasie nie!   

4. Streef daarna om geestelik te groei. Maak daagliks tyd vir God in gebed en Sy Woord. Maak seker dat jy elke Sondag twee keer in die kerk is, skakel in en wees betrokke by jou gemeente, lees geestelike boeke en tydskrifte, kyk na DVD boodskappe!  

5. Maak seker dat jy elke dag die wapenrusting van God soos in Ef 6:10-18 uiteengesit, aan het en wandel daarin! Onthou die oorwinningslewe lewe is ’n geestelike oorlog –– nie ’n Sondagskoolpiekniek nie! As daar nie ‘n oorlog aan die gang was nie, was daar ook niks om te oorwin nie. Noudat jy vervul is met die Heilige Gees mag jy dalk aanslae beleef wat jy nie voorheen beleef het nie. Moenie vrees nie en moenie daarvoor terugdeins nie! Daar is oorwinning in Jesus Christus. Die Here is besig om jou te leer hoe om geestelike oorlog te voer – en te oorwin!

6. Wees 'n aktiewe getuie vir Jesus -- ook deur jou gebeds- en finansiële ondersteuning vir wêreldsending! Raak betrokke by die uitdra van die Evangelie na die uithoeke van die wêreld. Hieronder gee ons vir jou besonderhede hoe jy betrokke kan wees by die uitdra van die Evangelie deur die internet.

As hierdie webblad iets vir jou beteken het, sal ons graag jou getuienis wil hoor. Stuur gerus vir ons ‘n epos by hierdie adres. Jou getuienis kan vir iemand anders van waarde wees en ons vra hiermee jou toestemming om jou getuienis anoniem ook met andere te deel. Ons sal nie jou naam gebruik sonder jou toestemming nie.

Missie Oorwin
Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees en die stryd vir die Evangelie van Jesus Christus in die wereld te help wen. Word deel van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
Scripture  Educational programs
Omtrent Ons | Kontak | 

Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2020 Scripture Educational Programs Alle regte voorbehou.